Die Terugkeer Van Siener – Van Daad en Lyding

‚N Woord aan die Afrikaner jeug en ander memorandums teen radikalisme van regs en links.

„Wat moet ons doen?“ dit vra julle my en dit vra julle julself die heeltyd, en hierdie “doen”, hierdie Daad beteken vir julle baie, beteken vir julle alles. Dit is goed my vriende, of – dit sou goed gewees het as julle maar net die Daad reg verstaan het!

Kyk tog, hierdie bang vraag: „Wat moet ons doen?“, alleenlik hierdie bang kinderlike vraag wys my, hoe min julle van die Daad weet.

Wat julle “Daad” noem, julle jongelinge, dit sal ek die oue van dae, heeltemal anders noem. Ek sal ‘n paar oulike en snaakse name daarvoor vind. Dit sal my nie baie lank vat om julle “Daad” tussen my vingers te draai en dit eenvoudig en sonder baie moeite in sy teenoorgestelde te verdraai nie. Want dit is sy teenoorgestelde! Julle “Daad” is die teenoorgestelde van dit wat ek “Daad” noem!

Die Daad, o vriende – hoor tog die blote woord, hoor tog ordentlik, was julle ore daarmee uit! die Daad – was nog nooit gedoen van iemand wat eers gevra het “Wat moet ek doen?” nie. Die Daad is die lig wat uit ‘n goeie son straal. Is die son nie ‘n goeie, ‘n regte, ‘n tienmaal beproefde son nie? Was die son ooit so ‘n son gewees wat homself met bangigheid gevra het wat hy moet doen? Dan sou hy nooit lig kon gee nie! Die Daad is nie om te doen nie, die Daad is nie om te oorweeg en te oordink nie. Wag, ek sal julle sê wat die Daad is. Maar voordat ek dit doen my vriende, laat my toe om julle te sê wat julle Daad vir my blyk om te wees. Dan sal ons mekaar beter verstaan.

Julle Daad wat julle wil doen, wat uit soek en twyfel en heen-en-weer oorweginge aan die lig moet kom – hierdie Daad, liewe vriende, is die eweknie en die aartsvyand van die ware Daad. Julle Daad, om dit by die naam te noem, as julle my sal vergewe vir die bose woord, is niks anders as lafhartigheid nie! Ek sien hoe julle kwaad word, ek sien om julle oë reeds die uitdrukking, wat ek so graag sien – maar wag ‘n bietjie luister nog tot die einde!

Julle was soldate, julle jong manne en voor julle soldate was, was julle boere of handelaars of vervaardigers of iets soortgelyk gewees, of julle vadere was dit, en hulle en julle het van een-of-ander slegte skoolbank af begin glo aan gewisse teenoorgesteldes waarvan ‘n mens vertel dat hulle uit die ewigheid uit kom en dat hulle van God geskape was. Ja hierdie teenoorgesteldes het uiteindelik self julle gode geword, soos wat julle ook mens en God eenvoudig as teenoorgesteldes aanvaar het, dat dit wat ‘n mens is, geen God kan wees nie, en omgekeerd. Hierdie ou, slegte geloof aan die heilige teenoorgesteldes kan ek, Siener, in my twyfelagtigheid en my aanstootlikheid, nie duideliker voor julle ontbloot, as daardeur dat ek julle met oop oë voor een van jul beminde teenoorgesteldes plaas nie: Daad en Lyding.

So, maak oop julle oë vriende, en aanskou Daad en Lyding, soos wat ‘n oue van dae julle wil wys. Daad en Lyding wat beide ons lewens bestem, Daad en Lyding is ‘n geheel, is een. Die kind ly dat hy verwek word, hy ly by sy geboorte, hy ly as hy die bors moet verlaat, hy ly hier en hy ly daar totdat hy uiteindelik die dood moed ly. Maar alles goed wat aan hom is, dit waarvoor hy geprys of gelief word, is maar net die goeie Lyding, die ware, volkome, lewendige Lyding. Om te weet hoe ‘n mens Lyding verdra is meer as ‘n halwe lewe. Om te weet hoe ‘n mense Lyding verdra is ‘n volkome lewe. Geboorte is Lyding, groei is Lyding, saad ly aarde, wortel ly reën, knoppe ly bloeiing.

So, my liewe vriende, ly die mens sy lot. Lot is aarde, is reën, is groei. Lot maak seer.

Maar julle noem die weghardloop van dit wat seer maak: “Daad”, om nie gebore te wil word nie, vlug van Lyding! “Daad” noem julle dit, of noem julle vadere dit, as julle dag-in en dag-uit in winkels en om werkbanke rumoer, as julle baie hamers hoor hamer, as julle baie roes in die lug blaas. Verstaan my goed, ek het nie die minste vyandskap teen jul hamers en teen jul roes nie, ook nie teen die hamers en roes van jul vadere nie. Maar dit laat my lag, dat julle hierdie bedrywigheid “Daad” kan noem. Bedrywigheid was nie Daad nie, Bedrywigheid was niks meer as die vlug van Lyding nie. 

Jul alleenheid het jul in die verleentheid gebring, dit het seer gemaak – daarom het julle maatskappye en organisasies gestig.

Om allerlei stemme van binne julself te hoor praat, stemme wat van julle verlang dat julle jul eie lewens moet leef, jul eie lot moet soek, jul eie dood moet sterf, dit het julle in die verleentheid gebring, dit het seer gemaak, daarom het julle weggehardloop en rumoer gemaak met masjiene en hamers, totdat die stemme verder weg was en dit stil geword het.

So het jul vaders dit gedoen, so het jul onderwysers dit gedoen, so het julle dit ook gedoen. Lyding is wat van julle verlang was –  en julle was verontwaardig, julle wou nie ly nie, julle wou net doen!

En wat het julle gedoen? Eers het julle offerande gebring aan die god van geraas en verdowing deur julle vreemde besigheid, julle het jul hande vol gehad, genoeg om te doen, nooit tyd om te ly nie, om te hoor nie, om asem te haal nie, lewensmelk uit te suig nie, hemelslig te drink nie. Nee, julle moes mos altyd doen, altyd doen. En toe jul gedoen nie help nie, en toe jul lot binne julle, inplaas van soet en ryp, vrotter en giftiger word, toe vergroot julle jul doen, toe skep julle vir julself vyande, eers in die verbeelding en toe in die werklikheid, toe gaan julle oorlog toe en het soldate en helde geword. Julle het verower, julle het die onsinnigste verdra, julle het die reusagtigste gewaag. En nou? Gaan dit nou goed? Is julle stil en gelukkig in jul harte? Proe jul lot soet? O nee, dit proe bitterder as ooit, en daarom haas julle na nuwe dade, hardloop in die strate in, storm en skreeu, verkies rate en laai weer gewere. En dit alles, omdat julle ewig op die vlug is voor Lyding! Op die vlug is voor julself, voor jul siele.

Ek hoor hoe julle my weerspreek. Julle vra my of dit nie Lyding was wat julle verdra het nie. Of dit nie Lyding was toe jul broers in jul arms gesterf het nie. Ja dit was lyding – dit was selfgewilde lyding, moedswillige, ongeduldige Lyding, dit was die poging om jul lot te verander. Dit was heldhaftig – so veel soos wat hy ‘n held kan wees, hy wat nog probeer om voor sy lot te vlug, hy wat dit nog wil verander.

Om te leer ly is moeilik. Julle vind dit meer en mooier by vroue as by mans. Leer van hulle! Leer luister, as die stem van die lewe praat! Leer sien as die son van jul lot met die skadu’s speel! Leer ontsag hê vir die lewe! Leer ontsag hê vir julself!

Uit Lyding kom krag, uit Lyding kom gesondheid. Dit is altyd die “gesonde” mense, wat dan ewe-skielik omval en aan ‘n briesie sterf. Dis hulle wat nie Lyding geleer ken het nie, Lyding maak taai. Dit is kinders wat voor elke Lyding die vlug inslaan. Waarlik, ek is lief vir die kinders, maar hoe kon ek dié lief hê, wat hul hele lewe lank kinders wil bly? Só is julle almal, julle wat voor Lyding na Daad vlug, as gevolg van daardie ou en hartseer kindervrees van pyn en die donker.

Kyk tog wat julle met jul baie doen en jul ywer en jul besigheid bereik het! Wat is nog daarvan oor? Die geld is weg en daarmee saam al die glans van jul lafhartige ywer. Of waar is die Daad, wat julle met al jul doen gegenereer het? Waar is die groot mens, die stralende, die doener, die held? Waar is jul staatspresident? Wie is sy navolger? Wie sal dit word? En waar is jul kuns? Waar het julle die werke wat jul tyd regverdig? Waar is die groot blymoedige gedagtes? Ag julle het veel te min, veel te sleg gely, om goeie en stralendes te kan wys.

Want die Daad, die goeie en stralende daad, my vriende, hy kom nie uit doen nie, nie uit die bedrywigheid nie, nie uit ywer en gehamer nie. Hy groei eensaam op berge, hy groei op die hoogtes, waar stilte en gevaar is. Hy groei uit Lyding, Lyding wat julle nog eers moet leer ly.

_____________________________________________________________________________

’n Vertaling van ’n paar bladsye uit . Zarathustras Wiederkehr: Ein Wort an die deutsche Jugend und andere Denkschriften gegen den Radikalismus von rechts und links.

Die verlating van die Weste en die Chinese oplossing. (Deel 1 & 2)

Deel 1

138814678Dit is ’n saak van politieke snaaksheid dat ’n volk wat op so ´n groot mate deur “die Weste“ verlaat is, na oplossings vir hul probleme in “die Weste“ soek. ’n Gepaste vergelyking is dié van ´n verlate en vir-dood-verklaarde kind wat geen ander hoop kan sien as om terug te keer na dieselfde moeder wat hom verlaat het nie.

Toe Suid-Afrika haarself nog as ‘n belangrike deel van “die Weste” verstaan het, het sy haar weermag na Angola gestuur. Nie net om haar eie grense te verdedig nie, maar ook om die vryhede, wat sy gedink het dat sy verplig was om te verdedig, te gaan verdedig. Sy het haarself as deel van ´n familie van “Westerse” nasies beskou.

In plaas van ’n “Dankie!” of ’n “Welgedaan!”, is Suid-Afrika in die byekorf deur die vyand omring agtergelaat. Polities gestrand in Angola terwyl haar “bondgenote” hul hande gevryf het in afwagting daarvoor dat sy die toets plek vir hul wapens kon word.

Nou, meer as 30 jaar later, is dit pateties om die Boerevolk te sien smeek en bedel, elke keer as daar ´n krummel van die Amerikaanse tafel val.

“O, Trump het oor ons getweet, die vreugde, die hoop!”, die naïwiteit is amper oulik. Hulle dink nog steeds hulle is deel van “die Weste” en hulle lees en dink en hoop nog steeds in Engels.

Meer nog! Dit is ’n saak van politieke absurditeit dat ’n volk wat so erg deur die „Weste” misbruik word na ´n oplossing vir hul probleme in die „Weste“ soek. ’n Meer gepaste vergelyking is dié van ’n verkragte meisie wat gevoelens vir haar pyniger ontwikkel. As te ware ´n soort Stockholm-sindroom; ’n hele volk wat onder ‘n irrasionele waan ly, wat glo dat hul verlossing van hul verkragters sal kom.

Toe Engeland oumas en tannies en niggies en nefies in konsentrasiekampe gesmyt het sodat hulle daar kon sterf aan Afrika hitte en siektes, toe oupas en ooms by die duisende na Ceylon en St. Helena gestuur is om nooit weer hul plaashuise en land wat hul bewerkbaar gemaak het te sien nie, op daardie oomblik het die Boere presies geweet tot watter mate hulle deel van “die Weste” is.

Maar soos die verkragte meisie, bevrug met die saad van haar pyniger, het die Boere hulle nie net deur Londen laat gevange geneem nie, maar ook laat betower; twee geslagte later bid hulle vir Londen sodra hulle sien dat haar strate oorstroom word van mense wat sy self oorstroom het. Die Boere verkies om die vyand in die EU, dit wil sê Duitsland, te sien, en vergeet dat hul vermoë om hulself te verdedig (in die vorm van Mausers) vir ten minste ’n kort tydjie lank uit Duitsland gekom het, voordat sy deur die empire verswelg is.

Nie dat Duitsland vandag baie kan help nie, haar eie regterhand is agter haar rug vasgebind deur die einste “Weste” waarvan ons nou praat. Selfs destyds het die Mausers ’n prys gehad. Reeds voor daardie aaklige oorlog teen die Boere, moes die Boere eintlik geweet het hoe min hulle werklik deel van “die Weste” was. Hoeveel Boere-verteenwoordigers was na die Kongo-konferensie genooi? Wie het daar vir die Boere gepraat? Wie het hul Republieke verteenwoordig? Niemand nie. Tog bly die Afrikaner verbonde met “die Weste”, a.g.v.  geskiedkundige -, gedwonge omgang met “die Weste” wat die intellektuele onvermoë bewerk om ten minste na ander moontlike oplossings te kyk.

Dit gesê, as die Boerevolk die moed bymekaar kan maak om op te kyk van waar hulle lê en bloei, op te kyk, nie na haar vervolgers nie maar weg van haar vervolgers en oor haar vervolgers se koppe heenweg, dan is daar hoop. As die Boerevolk die skaamte kan oorkom, daarvoor dat sy die slagoffer van “die Weste” se aanhoudende verkragting was, dan is daar hoop en sal die Boerevolk vry word om weer rasioneel en nugter te dink.

Deel 2

“Die Weste” het ons agtergelaat, uitverkoop en verkrag. Maar dit beteken natuurlik nie dat daar nie ook goeie mense in “die Weste” was nie, mense wat in hul eie politiese konteks protesteer het terwille van die Boere mense en teen die onreg wat hulle moes ly.

Ten spyte daarvan dat geen Boere verteenwoordiger na die Kongo/Berlin-konferensie uitgenooi was nie, het Otto von Bismarck, of te ware die Duitsers, die Boere tog met wapens voorsien sodat hulle hulself kon verdedig.

Mense soos Emily Hobhouse en G.K. Chesterton het in die oorlog teen die Engelse aan Boere kant gestaan.

Toe die Amerikaners besluit het om die Boerevolk in Angola te laat val was daar sekerlik ook sulkes onder hulle wat hul geskaam het vir hul regering se optrede. Vandag nog is ‘n groot deel van die VSA se ou-bevolking nog baie pro-Boer gesind en kan aanklank vind by die Boere strewe na vryheid en vrede.

Nietemin is al hierdie goeie sentiment teenoor die Boerevolk, van nul-en-geener waarde. Die verbrande aarde taktiek was aangewend, die konsentrasie kampe was daar, die verraad in Angola het plaasgevind en die volksmoord vind plaas ten spyte van alle goeie bedoelinge en ten spyte van alle pro-boer sentiment. Daar kan nog 100 liedjies geskryf word vir vermoorde boere soos wat daar daardie tyd nog 100 Emily Hobhouse’e kon wees wat 100 meer wonde kon verbind. Dit verander nie die politiese realiteit nie.

Bykomend is die belangstelling wat ander mense in die Boere het, gereeld niks meer as ‘n projeksie van hul eie binnelandse politiek nie. Sodra hulle dan nie meer die Boere vir hul eie politiek kan gebruik nie, is die saak vergete. Dit is maar net normaal.

“Die Weste” wat ek pleit verlaat moet word, is nie die weste van individuele goed gesinde mense nie – oor hulle is ons almal dankbaar en bly. Nee “die Weste” wat verlaat moet word is die politiese Weste. Die een wat Emily Hobhouse se verpleeg kuns nodig gemaak het, die een wat die inhoud verskaf vir Dean Chancy se liedjie.

Die Boere se romantiese of selfs nostalgiese gevoelens oor ‘n kwansuis christelike Weste wat beskerm moet word en waarvoor hulle moet veg sal niks meer bewerk as nog meer liedjies en nog meer Hobhouse’e nie. Sodat die Boere, as hulle dan uiteindelik uitgewis is ten minste nog ‘n mooi monument sal ontvang ter herdenking aan ‘n Volk wat tot die bittere einde vasgehou het aan ‘n narratief wat hul lewe gekos het. Dan sal daar baie individue en kunstenaars en goeie mense wees wat sal sê: “Ons moenie van die Boerevolk vergeet nie, hulle was ‘n kort tydjie daar en het ons almal gewys wat vryheid is.”

Dalk is daar selfs Boere mense vandag wat niks meer wens nie as dat ‘n vererende toespraak by die begrafnis van die laaste Boer gehou sal word. Sodat hul engelse kleinkinders êrens in die toekoms in Amerika en Kanada en Australië en England ten minste kan sê:

Yeah, my great-great grandpa was one of those people – they were really cool”.

Daarmee wil ek nie tevrede wees nie. Ek pleit en herhaal weer, ons moet die politiese Weste verlaat en ons polities geïsoleerde toestand aanneem sodat ons nugter na politiese alternatiewes kan kyk.

G.K. Chesterton – Ortodoksie + Paasfees 2020

Ek wou, vandat ek kan onthou, tot insig kom.
Waarom lewe ons? Waarom is ek hier op aarde?

Die godsdiens waarin ek grootgeword het, het baie van die vrae vir my beantwoord.
Ek lewe vir die Here en ek is op die aarde om die wil van die Here te doen.

Natuurlik het daar dan nog meer vrae gekom:
Wie presies is die Here? Wat is die Here se wil?

En daar kom toe nuwe antwoorde:
Jesus Christus is die Here. Sy wil moet Hy my openbaar deur Sy Heilige Gees.

En dan natuurlik het daar nog meer vrae opgekom met nog nuwe antwoorde, sodat ‘n berg van verstand gegroei het, ‘n vulkaan gevul met vrae soos magma wat dan, sodra daar genoeg druk ontstaan, vrae soos lawa rigting hemel spoeg.
Maar soms het ek vrede en ek dink ek kan baie verstaan en baie idees tussen my vingers draai om daarmee te speel.

Aan een ding kon ek nietemin nog geen vashouplek vind nie en dit besef ek elke keer as ons nagmaal bedink en nagmaal in die kerk deel.
Ek probeer om te verstaan, hoe en waarom Jesus vir my en die wêreld aan die kruis gesterf het, Hy het Sy bloed gegee, Hy het ook Sy liggaam gegee – ek wil dit verstaan sodat ek dit reg kan waardeer.

Maar ek kan nie.

Ek ontvang die brood in my hand, sluit my oë om te bedink en om te verstaan sodat ek kan waardeer wat dit beteken en waarvoor dit staan.

Maar ek kan nie. Ek kan dit nie verstaan nie.

Ek ontvang die beker in my hand, sluit my oë om te bedink en om te verstaan sodat ek kan waardeer wat dit beteken en waarvoor dit staan.

Maar ek kan nie. Ek kan dit nie verstaan nie.

G.K. Chesterton – Ortodoksie 

Dat dit moontlik is vir ´n goeie man om met sy rug teen die muur te staan, dit weet ons reeds; maar dat God met die rug teen die muur kan staan, daarop kan die rebelle van alle tye trots wees. Wêreldwyd is die Christendom die enigste godsdiens, wat besef het, dat ‘n almagtige God iets tekort kom. Alleenlik die Christendom het begryp, dat God, om geheel en al God te wees, nie net koning moet wees nie maar ook rebel. As enigste een uit alle godsdienste het die Christendom die deugde van die skepper moed toegevoeg. Want die enigste moed wat sy naam verdien, bestaan daarin, dat die siel verby sy breekpunt beweeg – en tog nie breek nie. Die probleem, wat ek hier beroer, is so ondeurgrondelik en verskriklik, dat dit nie maklik is om te bespreek nie; en ek vra vooraf om verskoning, sou een van my formuleringe dwaal of minagtend blyk te wees in die aangesig van ‘n onderwerp, waarvoor die grootste heiliges en denkers tereg gevrees het. Nietemin, in die dramatiese verhaal van die lydensweg van Christus is daar ‘n duidelike emosionele verwysing daarna dat die skepper van alle dinge (alhoewel dit ondenkbaar verskyn) nie bloot onder doodsangs gelei het nie maar ook onder angs van twyfel. Daar staan geskryf: “Jy mag die Here jou God nie versoek nie.” Jy nie, maar die Here jou God kan homself versoek; en dit blyk waar te wees dat presies dit in Getsémané gebeur het. Op daardie plek versoek Satan die mens; op daardie plek versoek God God. Op ‘n bomenslike manier en wyse het Hy onder die menslike toestand van pessimisme gely. Toe die aarde bewe en die son in die hemel verduister, het dit nie gebeur as gevolg van die Kruisiging nie maar as gevolg van die geroep wat van die Kruis af gekom het en gebieg en beken het dat God van God verlaat was. En nou kan die aanhangers van die revolusie onder al die godsdienste ‘n geloof en onder die gode van die Wêreld ‘n god uitsoek, hulle kan alle gode watse herhalende terugkeer onvermydelik is en watse mag onveranderlik is, sorgvuldig vergelyk. Hulle sal geen tweede god vind, wat self ‘n rebel was nie. Nog meer (en hier word dit te moeilik vir die menslike taal), ook die ateïste kan vir hulself ‘n god uitsoek. Hulle sal alleenlik een vind, wat hul eensaamheid in woorde kon uitdruk, alleenlik een godsdiens, waarin God, vir een sekonde lank, geblyk het ateïs te wees.

Eli Eli lama sabagtáni – My God, my God, waarom het U My verlaat?

Wanneer ek by my seker en gemaklike huisie uitstap om in ‘n warm en sekere kerkgebou die sakrament te ontvang – hoe kan ek dit versteen. Ek kan dit net aanneem in dankbaarheid, want dit gaan te goed met my om my eie godsdiens te verstaan.
Verstaan sal hy wat alleen en eensaam is, hy wat verlate voel, gebreek en stukkend, hy het die vermoë om my godsdiens te verstaan en hy word verstaan.

Eli Eli lama sabagtáni – My God, my God, waarom het U My verlaat?

 

Mishima – Gert Rautenbach

Gert Rautenbach – Die blindheid van Sokrates

Nog Afrikaans in Duitsland

Through the Narrow Gate – Karen Armstrong

jimi le roux

Narrow GateThrough the Narrow Gate – Karen Armstrong

Hierdie is ’n outobiografie wat ek so tussen-in gelees het – een van Andrea se boeke – en ek het gevoel om iets daaroor te deel.  Karen – deesdae ’n bekende skrywer oor godsdienstige temas – was vir 7 jaar ’n non en hierdie boek vertel daarvan.  Dis verskriklik interessant hoe dinge daar in die klooster gaan. Die punt is egter dat dit later vir haar onhoudbaar geword het en sy toe van haar beloftes losgemaak is. Sy het vir God daar gesoek met alles wat sy het, maar het Hom eerder daar verloor. Die behandeling in die klooster was vir haar onversoenbaar met wat sy van Jesus of die evangelie geleer het. Sy het agterna haar rug op godsdiens gedraai, maar is tans weer ’n gelowige „of sorts“, maar nie streng ’n Christen nie.  Sy het later lank in Jerusalem gewoon en…

Ursprünglichen Post anzeigen 700 weitere Wörter

Think like Jesus – Kobus Neethling

Ek het skaars nog tyd om te skryf, ek is bly om hierdie stukkie te kan reblog.

jimi le roux

neethlingThink like Jesus – Kobus Neethling, Hennie Stander, Raché Rutherford, (Carpe Diem, 2000)

Ag, ek was nie eintlik weggeblaas hierdeur nie.  Ek wou seker maar ook iets lees deur Dr. Kobus Neethling, bekende kreatiwiteitspesialis (deesdae minder in die nuus as vroeër), en hierdie boek was by die bibloteek se boekverkoop-rak vir ontrent R4, so iets.

Die rede dat die biblioteek nie hierdie skenking kon gebruik nie is dat die boek in die water geval het, oënskynlik.  Die bladsye is gekreukel en mens sien die watermerke.  Dis my eerste probleem met die boek – alhoewel dit natuurlik nou nie die boek self se skuld is nie.  Ek kan egter wel verstaan dat mens die boek in die badwater sal laat val, want dit het amper met my ook gebeur.

Dan het die voorblad my ook nie behaag nie (ek het probeer vasstel wie die uitleg gedoen het, maar hulle was te…

Ursprünglichen Post anzeigen 1.167 weitere Wörter

Aanhaling Uitdaging: 1

Dankie vir die Nominasie JanKaalvoet!!

My aanhaling vir die dag is deur Umberto Eco in Die Naam van die Roos.

„Daar is vir jou gelieg, die Duiwel is nie die prins van Materie nie, die duiwel is die arrogansie van die gees, geloof sonder ’n glimlag, die waarheid wat nooit deur twyfel in beslag geneem word nie. Die Duiwel is swart en donker, want hy weet waarheen hy gaan en hy gaan altyd daarheen terug vanwaar hy gekom het. Jy is die Duiwel jy leef soos die Duiwel in die donkerte.“

~ Umberto Eco

Ek nomineer vir:

Gert Ratenbach (’n Google Blogger)

en

Jimi le Roux

Laat waai!

‘n Gesprek Met Anton Goosen – Ep. 7 WAT Podcast met Willem Welsyn