Die Respekfaktor/Formele Afrikaans

Onder Dagsê en welkom het ons so ’n bietjie gepraat oor die verskille tussen Afrikaanse en Duitse Respek-kultuur.

Daar het ek genoem dat ons God U noem en mekaar jy en jou. Die Duitsers noem God jy(du) en jou(*) en mekaar U (Sie). Hierdie onderwerp is by my nog nie koud nie. Die vraag na ons taalgebruik met God wil ek eers laat staan, hoefeel betekenis dit het is ook nog ’n ander vraag.

Vir hierdie Post wil ek konsentreer op ons verhouding met mekaar, eerste wat taal aanbetref en dan wat dit dalk mag beteken.

Ek stuur ’n rukkie terug ’n epos om navraag te doen oor pryse, ek begin en eindig so:                  „Geagte … kan u my dalk… baie dankie, by voorbaat André ….„.                                          Die antwoord kom so:                                                                                                              „Môre André… Dankie vir jou navraag… Vriendelike groete…

Iets soortgelyks het ek natuurlik al hier in Duitsland gedoen, dit verloop so, ek begin:        „Sehr geehrtes  DB Fundbüro…Mit freundlichen Grüßen…“ ens.                                                 Die antwoord kom so: „ Sehr geehrter Herr… vielen Dank für Ihr Schreiben..Mit freundlichen Grüßen..,

In Duitsland vat dit ’n rukkie voordat mens iemand du (jy/jou) noem. Onbekendes en selfs mense wat jare saamwerk noem mekaar Sie (U). Du kan een of andertyd aangebied word, normalewyse deur die ouer persoon. Dit moet ook gesê word dat die Sie in hierdie konteks ’n teken van afstand eerder as respek soos wat ons die in Afrikaans verstaan bedoel. Kyk byvoorbeeld na Wolfgang (’n Duitser) se defenisie van respek onder Dagsê en welkom: „Respek beteken vir my dat ek ‘n mens in ‘n beskaafde wyse kan ontmoet ook as ek nie met hom saamstem nie.“ Het dit nie met afstand te doen nie? Die afstand/respek waarvan ek my lewe lank in Suid-Afrika gedroom het, vind ek nou hier in Duitsland.

Afrikaanse mense hanteer mekaar met ’n gewisse overfamiliarity!

Vandat ek klein is voel dit vir my asof mense wat my sopas ontmoet het met my praat asof hulle my ken. In Afrikaans sê ons hoogstens nog vir die ouer persoon Oom of Tannie en partykeer verkies hulle ook om eerder op die naam of jy en jou genoem te word.

Kort nadat ek van die Vrystaat af Johannesburg toe getrek het, het ek in ’n boekwinkel begin werk. Daar het ek eenkeer gesê: „Kan ek oom help met iets?“ Oom het geantwoord: „Jy is nie nou op die plaas nie, eks nie jou oom nie.“ Hier het dit vir my duidelik geword dat oom en tannie nie genoeg is nie, as oom en tannie wegval bly niks oor nie en hoekom kon hy my jy en jou maar ek kon hom nie oom noem as ek wou nie? Waar was die respek wat my toekom? Van daardie dag af het ek mense u begin genoem: „Kan ek u help?“.

Op ’n ander geleentheid het ek die oom van ’n vriendin van my op haar verloowings-partytjie gevra: „Kan oom asb. vir my die sout aangee?“ Hy het geantwoord: „Jy hoef my nie oom te noem nie.“ ek het dit goedgedink om te sê: „Kan jy my dan asb. oom noem?“ Ek dink nie hy het dit gedoen nie.

Natuurlik gaan dit nie net oor hoe ons mekaar noem nie, maar ek dink tog dit het betekenis. Hierdie respek- of afstand-tekortkoming is nie net in ons taalgebruik nie, ons taalgebruik pas aan by ons handel en houding. Die hoeveelheid respek wat ons vir mekaar het is duidelik sigbaar in gesprekforums waar mense verskillende opinies het, dit vat nie lank voor ons so laag gedaal het soos… wat weet ek… nie.

Van wanneer af is ons so met mekaar? Is daar iemand oud genoeg om my te vertel van ’n tyd wat Afrikaanse mense mekaar respekteer het?

Ek het ’n teorie oor waar dit vandaan kom, maar ek hoor graag eers of iemand my kan help. Lig u mening!

Advertisements

8 Kommentare zu “Die Respekfaktor/Formele Afrikaans

  1. Dis inderdaad ’n probleem met die verskeie respek-kulture. Ek het onlangs ’n e- pos aan ’n professor by die Universiteit van Kaapstad geskryf. Ek het dié e-pos begin met „Geagte mev. XXX“ en geeindig met „Die uwe“ + my naam op die laaste lyn. Die antwoord-e-pos het sy begin met „Beste Wolfgang,“ en afgesluit met „Vriendelike groete, XXX“. Is dit nou reg as ek in ’n antwoord „Beste XXX“ skryf?

    Groete Wolfgang

  2. Oom André, baie goed geskryf – ek het hierdie blog inskrywing geniet. Ek het ook maar nog altyd „ge-oom“ en „ge-tannie“, maar nog nooit regtig verder gedink aan hoe hulle antwoord nie. Dit pla my egter nie regtig nie, ek dink respek gaan dieper as die woorde. Ek dink dis ook in die houding en gesindheid van die persoon. Iemand kan my as „u“ of „meneer“ aanspreek maar steeds geen respek toon nie, waar my vriend amper effens ongeskik met my sal praat, maar ek weet tog dat hy respek vir my het. Dis egter waar wat jy sê, respek is iets wat al skaarser word in ons samelewing. Ek sal weer hier by jou kom inloer.

    • Dagsê Reinhardt
      Dankie vir jou deelname! Ek dink daar is twee vrae wat eers geantwoord moet word voor ons regtig ordentlik hieroor kan gesels.

      Volgens ’n Duitse verstaan van respek (mynsinsiens natuurlik), hetsy in die Duitse taal of in die verstandhouding is dit so dat dit wat jy gesê het teenstrydig is:
      „… my vriend amper effens ongeskik met my sal praat, maar ek weet tog dat hy respek vir my het.“
      Die Duitse verstaan van respek het te doen met afstand, sodra iemand dan effens ongeskik of liefdevol met my praat hou hy of sy duidelik nie die afstand nie! Met ander woorde; hy of sy het geen respek vir my nie.
      Ek verstaan natuurlik wat jý bedoel want ek is ook ’n Afrikaner en Afrikaans en ek merk hoe moeilik dit is om jóú „u“ te noem. Daar is eenvoudig bittermin afstand tussen ons Afrikaners. Soms tot voordeel, soms tot nadeel. Selfs as ek jou „oom“ noem dan maak ek jou familie! Ek trek jou eintlik nader maar respekteer jou nietemin. Só ’n „respek“ is volgens my nie voorhande in Duitsland nie, wat wel voorhande is, is „afstand“ hulle noem dit respek.
      1. Wat is respek? (Dit is eintlik die gróót vraag.)

      Die tweede vraag wat ons moet vra het te doen met daardie twee begrippe daar bo:
      Taal en verstandhouding.
      Dit is moeilik om vas te stel wat eerste kom, die taal of die verstandhouding? Die een beinvloed natuurlik die ander een, so is dit dan dat „waaraan ons nie kan dink nie, daaraan kan ons ook nie uiting gee nie (ten minste nie in woorde nie).“ maar ook „waaraan ons nie in woorde uiting kan gee nie, kan ons nie dink nie.“ Laasgenoemde is gevaarliker en as dit so eenvoudig aan ons onderwerp oorgedra kan word dan beteken dit dat ons tekort aan respek in taal ook ’n tekort aan daadwerklike respek is. In die Duitse Tydskrif Z haal Mnr. Peter Ischka, Dr. Norber Bolz van die Technischen Universität Berlin aan. Professor Bolz is van die Instituut vir taal und kommunikasie, fakgebiet Media-wetenskap en berading.

      „Der im Sprechen und Schreiben Beschnittene kann nicht mehr frei im Denken sein. Es gibt keine Freiheit des Denkens ohne die öffentliche Mitteilung des Gedachten…“

      Tweede vraag dan:
      2. Hoe staan taal en verstandhouding in verhouding?

      http://www.zukunft-eu.de/Meinungsbildung-Z-f-r-Zukunft.9ec49.php

  3. „dat ons God U noem en mekaar jy en jou.“ Dus ek – as nikswetende kaaskop – het eposse na Suid-Afrika gestuur, waarin ek mense „u“ noem, terwyl dit nie gewoonlik is nie?

    Ek hou nie van die jy-jou aanspreekvorm nie, verseker nie vir mense wat ek nie ken nie. In die openbare lewe sê ek in Nederlands altyd „u“. Ek is ’n keer verwyder van ’n byeenkoms, omdat ek geweier het om die leier „jy“ te noem. In die konserwatiewe gemeenskap waarin ek groot geword het is dit baie onbeleefd om te „jijjouwen“ (soos ons dit in Nederlands noem). Sê altyd „u“ teen groot mense. Ouma, Oupa, Oom, Tannie, ens. Maar (ongelukkig?) vind ek dit baie afstandelik om „u“ teen my ouers te sê.

    Maar anderkant: as mense mekaar vriendelik behandel, is dit tog ook ’n teken van respek? Hierdie is altyd nog beter dan iemand „u“ te noem en hom vervolgens te beledig.

    Lekker blog!

    • Dagsê Christian

      Die „jy vs. u saak“ is nog nie afgehandel nie. Jou nikswetende kaaskop eposse na Suid-Afrika toe was nie so nikswetend as wat jy dalk mag dink nie. Ek vermoed eerder dat jou Eposse die standaard hoog gehou het.
      Jy (!?) behoort onder Unterricht-Zusammenfassung ’n artikel i.v.m eposse te vind.

      Ek skryf hier (Die Respekfaktor) eerder oor Afrikaans van aangesig tot aangesig waar „u“ heeltemal veld verloor het. Afrikaners vergelyk eerder soos Amerikaners as soos Europeurs geen selfrespek en geen respek vir mekaar.

      • Ja, ek het die artikel met betrekking tot e-posse gelees. Die briefwisseling tussen De Klerk en Mandela in Afrikaans en die formele briefdeelaanduidings in Duits daaronder…

        Gelukkig was die e-posse, wat ek na Suid-Afrika gestuur het, formeel bedoel.

        Laaste: In die kuberruim gebruik ek net jy/jou, omdat mense mekaar se leeftye nie weet nie. Watter aanspreekvorm gebruik jy (of u; as u dit wens) aanlyn?

Kommentar verfassen

Trage deine Daten unten ein oder klicke ein Icon um dich einzuloggen:

WordPress.com-Logo

Du kommentierst mit Deinem WordPress.com-Konto. Abmelden / Ändern )

Twitter-Bild

Du kommentierst mit Deinem Twitter-Konto. Abmelden / Ändern )

Facebook-Foto

Du kommentierst mit Deinem Facebook-Konto. Abmelden / Ändern )

Google+ Foto

Du kommentierst mit Deinem Google+-Konto. Abmelden / Ändern )

Verbinde mit %s

%d Bloggern gefällt das: